Moscato-malligheid is op pad na Suid-Afrika

Dit lyk asof Suid-Afrika bestem is om die volgende land te wees wat geraak sal word deur iets waarna die Amerikaners heel dramaties verys as “Moscato-malligheid”.
Dié uitdrukking het ontstaan vanweë die ongeëwenaarde toename in gewildheid onder Amerikaanse verbuikers van hierdie vrugtige wyn gemaak van muskaat-variëteite.
Twee plaaslike Moscato-wyne wat onlangs uitgereik is, Meander Moscato en Palesa Fairtrade Moscato, is gereed om Moscato-wyne in die Suid-Afrikaanse mark verder uit te brei.
Volgens Pieter Cronjé, bemarkingsbestuurder van uniWines Vineyards in Rawsonville, wat die Meander- en Palesa Fairtrade Moscato- wyne van druiwe uit die Breedekloof-wynstreek produseer, het hierdie wynstyl in die afgelope paar jaar `n gewildheidsontploffing onder Amerikaanse en Europese verbruikers beleef.
“Verkope van moscato-wyne het die afgelope twaalf maande met 80% gegroei, met huidige jaarlikse kleinhandel-verkope van meer as US$300m,” sê Cronjé. “Moscato het selfs Sauvignon Blanc se gewildheid in Amerika oorskadu. Sedert die lente het Engeland ook groei in die mark getoon en wanneer die jongste syfers later vanjaar bekend gestel word, sal Moscato se impak op die Britse mark `n spieëlbeeld wees van die effek wat hierdie wyn op die Amerikaanse mark het.”
Sowel Meander en Palesa Fairtrade Moscato word van 100% Muscat d` Alexandrie-druiwe berei. Hulle bied `n verfrissende vonkel in die styl van die oorspronklike Moscato d` Asti-wyne van Italië. En, naas die vrugtige geure, dra die lae alkohol van 7.5% by tot die gewildheid van die wyn.
“Voor ons die Suid-Afrikaanse mark betree het, het ons verbruikersopnames tydens verskeie wynfeeste gedoen en die publiek se reaksie was buitengewoon positief,” sê Cronje. “Die vrugtige soetheid (ressuiker van 85 gram per liter) is verfrissend danksy die suurbalans en die beperkte alkohol word beslis as pluspunte beskou.”
Een van die belangrikste bydraes tot die sukses van moscato in Amerika was die gewildheid daarvan onder hip-hop kunstenaars soos Kanye West, Lil`Kim en Ab-Soul, wat blykbaar Cognac en Champagne verruil het vir Moscato, en hulle verwys selfs in hul musiek daarna.
“G’n plaaslike musikant het tot dusver na ons verwys nie,” sê Cronje, “maar met die gewildheid van moscato, sing ons allesbehalwe die blues.”

– Artikel het in Die Burger verskyn.

 

 

This entry was posted in the company, the valley and its people, the wines. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This question is for testing whether you are a human visitor and to prevent automated spam submissions. *